Beheerliggame gaan nie appelleer teen hofbeslissing oor godsdiens in skole

Die skole het tot 4 Augustus kans gehad sou hulle wel wou appelleer.

Laerskool Baanbreker, in Boksburg, is een van die skole wat deur hierdie uitspraak geraak is.

In Junie vanjaar het regter Willem van der Linde in sy uitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof bevind dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ’n bepaalde raamwerk, insluitend die grondwet en skolewet.

LEES OOKFedsas staan op vir Christenwaardes in skole |

Afrikaans schools come under fire

Ogod ruling: Fedsas calls for parents, community to become more involved in schools

Die kern hiervan is dat ’n bepaalde geloof nie voorgestaan mag word tot uitsluiting van ander nie.

“Die hofbeslissing was in wese in die guns van die skole met slegs twee van die 77 bevele teen die skole wat uiteindelik deur die hof toegestaan is.

“Die skole beskou die hofbevel as regverdig en billik en wil graag daaraan voldoen,” sê Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas).

Die beheerliggame van die ses skole is Fedsas-lede en die organisasie het die skole in die hofsaak bygestaan.

Colditz sê slegs geringe aanpassings aan die betrokke beheerliggame se beleid, reëls en praktyke is nodig om wel aan die bevel te voldoen.

Fedsas het ook reeds inligting aan sy lede beskikbaar gestel ten einde die hofbevel korrek te interpreteer en by skole te implementeer.

“Die beheerliggame van die ses skole staan positiewe en konstruktiewe Suid-Afrikaanse burgerskap voor, met die grondwet as die belangrikste riglyn in die uitvoering hiervan,” sê Colditz.

“Regter van der Linde het in sy uitspraak genoem dat diversiteit in Suid-Afrika gevier moet word eerder as dat dit bloot verdra moet word.

“Dit is ‘n benadering wat in alle aktiwiteite van die skoolgemeenskap gevolg moet word en is van toepassing op meer as net godsdiens,” sê Colditz.

“Dit is inderdaad ook Fedsas se benadering en ‘n benadering wat Fedsas skole aanmoedig om te aanvaar en implementeer.”

Volgens die voorsitter van die Laerskool Baanbreker se beheerliggaam, Hercules Schoombee, het die skool nooit net een geloof geakkommodeer nie, alhoewel sy etos op Christelike waardes gebaseer is.

“Vorentoe sal ons skool, soos al die ander publieke skole in die land, nie meer mag sê ons onderskryf Christelike waardes nie,” sê Schoombee.

“Die reël sal ook vir publieke skole van ander gelowe geld. Ons sal dus in die toekoms net kan sê ons etos is op goeie waardes gebaseer.”

Verder meen hy Laerskool Baanbreker het egter nog nooit in die praktyk godsdiens gebruik om leerlinge uit die skool te hou nie en sal dit ook nie in die toekoms doen nie.

“So, by implikasie, sal ons nou nie meer kan voorhou dat ons ’n skool is wat steun op Christelike waardes nie, ten einde diversiteit te akkomodeer en in die toekoms sal ons net kan sê ons ondersteun goeie waardes,” verduidelik Schoombee.

“Die belangrikste feit vanuit die uitspraak is dat publieke skole se beheerliggame steeds die godsdiensbeleid van die skool mag bepaal.”

Laerskool Baanbreker se beheerligaam is tans in proses om die godsdiensbeleid op te dateer en sal in die nabye toekoms ’n konsultasieproses met sy ouers hê, om die gewysigde beleid te finaliseer.

  AUTHOR
Ischke de Jager
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top