Wen kaartjies na Fiela se Kind se openingsaand

Shaleen Surtie-Richards is na 30 jaar terug in die rol van Fiela.

Suzanne van Wijk het Fiela se Kind vir die verhoog verwerk en Frans Swart hanteer die regie.

Swart het die produksie reeds twee keer in die verlede aangebied, in 1997 en 2007, en hy en Dalene Matthee het voor haar dood groot vriende geword.

“Ons wil graag ook met hierdie produksie van Fiela se Kind hulde bring aan Dalene Matthee – een van Suid-Afrika se mees talentvolle skrywers,” het Swart gesê.

“Tydens een van ons repetisies destyds, het Dalene vir my ’n kopie van Fiela se Kind gebring – binnein was geskrywe: Fiela is in goeie hande! Dalene Matthee.

“Dit is nou weer tyd dat ons die wonderlike storie van Fiela se Kind op die verhoog ervaar.

“Ek en my span het van die staanspoor gesê ons wil nie enige vorige Fielas kopieër nie en daarom gaan hierdie produksie vars en nuut wees.

Ek is baie opgewonde wat in die kreatiewe prosesse gebeur het.

Teatergangers gaan beslis ’n wonderlike nuwe produksie kan ervaar – en daar is natuurlik na 30 jaar ’n nuwe generasie wat Fiela se Kind nog nooit op die verhoog gesien het nie.”

Swart sê verder dat hulle deur ’n landwye soektog was vir veral ’n jong Benjamin en jong Nina.

“En nadat ons regoor die land meer as 300 kinders gesien het, het ons uiteindelik ons nuwe Benjamin (Vian Singleton, van Meyerton) en Nina (Jaime du Toit, van Vereeniging) gevind,” het hy gesê.

“Hierdie twee is ongelooflik talentvol en gaan beslis die baie belangrike rolle van die jong Nina en Benjamin volstaan.

“Ek is net so opgewonde oor Shaleen Surtie-Richards, die oorspronklike Fiela. En dan het ons twee wonderlike jong akteurs as die ouer Nina (Marissa Claasen) en die ouer Lukas (Phillru van Achterbergh).”

Shaleen sê dis wonderlik om weer Fiela te speel.

“Ai man, dertig jaar later en soveel ander rolle later. Toe gee Frans Swart, die regisseur, my weer die geleentheid om Fiela te speel,” het sy gesê.

“Weet jy, toe ek daai kopdoek opsit, toe kom alles weer terug. Toe is ek weer Fiela. En elke akteur kry mos een rol wat net vir hom of haar bedoel is.

Fiela is my rol en dis ’n eer vir my om weer te gaan delf in Dalene Matthee se uitstekende roman wat met soveel liefde geskryf is.”

  • WEN!

Drie lesers kan elkeen ’n dubbelkaartjie wen na die openingsaand van Fiela se Kind by Emperors Palace op Dinsdag, 20 Junie, om 8nm.

Om deel te neem aan Boksburg Advertiser en Lefra Produksies se kompetisie, kan jy die volgende na 33000 SMS: Lefra Feila, Boksburg Advertiser, Fiela se Kind, jou naam en van en dan jou stad of dorp.

Dieselfde inligting kan ook per epos gestuur word aan [email protected] met ‘Lefra en Boksburg Advertiser Fiela Kompetisie’ as die onderwerp.

Wenners sal telefonies gekontak word en die beslissing van die redakteur is finaal.

SMSe kos R1.50 elk.

  AUTHOR
Ischke de Jager
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top