Fedsas staan op vir Christenwaardes in skole

Die voorsitter van die Organisasie vir Godsdienste-Onderrig en Demokrasie, Hans Pietersen, vra die hoogeregshof in Johannesburg om ses skole te verbied om onder meer Christelike liedere te sing, Christelike boeke uit te deel, en die opening van skooldag met skriflesing en gebed stop te sit.

Laerskool Baanbreker in Boksburg is een van die skole wie se Christenwaardes onder gedrang is.

Hans Pietersen sê in hofstukke, dat sy hofaansoek is hoegenaamd nie ’n heksejag op Christenskap of enige ander geloof nie, maar vir die beskerming van alle leerlinge se grondwetlike regte.

Die beheerliggame van die ses skole is lede van Fedsas, wat met die betrokke skole op Vrydag, 5 September, vergader het.

“Die skole het oorweldigende steun van die publiek en organisasies ontvang,” het die uitvoerende hoof van Fedsas, Paul Colditz gesê.

Colditz sê die skole het Werner Human van Hurter-Spies in Centurion as prokureur aangestel. Die regspan word gelei deur adv Johan du Toit van Johannesburg.

“Die skole spreek hul dankbaarheid uit vir al die steun wat hulle ontvang het. Op advies van die regspan sal daar voortaan egter geen mediaverklarings uitgereik of mediaonderhoude toegestaan word totdat die saak afgehandel is nie,” het Colditz gesê.

Intussen het Afriforum aangebied om ’n gedeelte van die regskoste van die skole te dra.

Persone of instansies wat bydraes tot die skole se regsfonds wil lewer, kan die bydrae inbetaal in Fedsas se regsfonds.

Vir meer inligting hieroor, kontak Colditz by 082 414 5359 of dr Jaco Deacon (Fedsas adjunkhoof) by 083 795 2928.

“Dit is Fedsas se beleid om beheerliggame te ondersteun in hul besluite wat binne die raamwerk geneem is wat deur die skolewet daargestel is”. – @IschkeBoksburg

Ander relevante stories:

Hofaksie om Christenwaardes uit skole te verwyder kry teenkanting

Skole bly staan vir Jesus

 

 

  AUTHOR
Ischke de Jager
Journalist

Latest News

COMMENTS

Top